Die Kriel stamvader: Herrmanus Grill in Duitsland


Uittreksel van die boek "Die Kriels : sommer gewone mense", Pretoria: GGSA, 2010, pp. xi-xv, xvii-xix, xxi-xxii. © GGSA 2010.
deur Helena Dorothea Garner (née Kriel) * 25-07-1940 b9c2d7e3f3g8h1 met die medewerking van Dudley Garner.



Stamvader Hermanus Kriel (Herrmanus GRILL) a 1 is die seun van Johann Peter Grill, stadsbewoner en kruidenier in die voorstad Hanau am Main, Hessen-Nassau, Pruise en sy vrou Eva Christina Schlemmer. Hoewel sterfinskrywings vir sy ouma en oupa aan moederskant, sowel as vir sy broer Theodor, predikant te Hanau gevind kon word, is daar geen sterfinskrywing vir Hermanus nie.

Volgens die tuisblad www.familysearch.org is daar ook die volgende broers en susters. Hulle kon egter nie in die Hanau doopregisters opgespoor word nie:

Die volgende kinders kon wel gevind word:

Die doopinskrywing lyk soos volg: 1689 #57 Den 21. Aprill, gebohren den 12 dito Der Vatter, Johann Peter Grill, Bürger und Kremer in der Vorstadt Die Mutter Eva Christina Das Kindt Herrmanus Gevatter, der ehrwürdige und wohlgelährte Herr Herrmanus Heussling, Pfarrer im Kloster Keppel, im Fürstenthum Siegen gelegen, ist ein Hochzeiter mit der Viel Ehr und Tugend reichen Jungfer Maria Catharina des hocherwürdigen und hochgelährten Hn. Theoderich Schlemmer Stadtprediger allhier Tochter. 3

Engelse vertaling: on 21 April, born 12th same month, Father Johann Peter Grill, citizen and grocer in the suburb Mother Eva Christina Child Herrmanus Godfather: the honourable and learned Herrmanus Heussling, minister in the convent Keppel in the principality of Siegen, is a bridegroom to the honorable and virtuous virgin Maria Catharina, daughter of the most honorable and most learned Theoderich Schlemmer preacher in town.

Die Marienkirche het reeds in 1234 bestaan. Die Gotiese koorgedeelte is in 1445-1492 gebou en is die oudste gebou in die “Altstadt”. Vanaf die ingang van die koorarea kan die pragtige skilderye in die vensters besigtig word. Tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het die kerk op 19 Maart 1945 onder ‘n bomaanval deurgeloop. Gelukkig het 4 van die vensters behoue gebly. Een van die skilderye bevat ‘n portret van die ontwerper van die koorarea, Phillip die jonge. Die skip van die kerk is na die oorlog herbou. 4

Opsomming uit die Festschrift oor die geskiedenis van die Marienkirche te Hanau: 5

Die Maria-Magdalena-kerk te Hanau, in die bisdom van Mainz, is weg van die hoofstrate effens buite die middestad geleë.

Die kerk word vir die eerste keer in 'n aflaatbrief (vergifnisbrief) van 1316 vermeld. Daarvolgens word vergifnis aan almal toegestaan wat die kerk op vasgestelde feesdae besoek en veral aan diegene wat "die bou van die kerk ondersteun", d.w.s. finansiële bydraes maak. Aartsbiskop Peter van Mainz het op 29 April 1317 hierdie vergifnis bevestig.

Reinhard II von Hanau het gedurende 1436 sy residensie na Hanau verskuif. Dit het tot 'n merkbare opgradering in die ontwikkeling van die stad en die kerk gelei. Onder sy leiding het die Maria Magdalena-kerk tussen 1429 en 1439 as onafhanklike gemeente begin funksioneer. Hy het die finansies van die kerk bestuur, iets wat tot vandag toe nog by die Marienkirche gedoen word. Hy het die koorruimte as die burggraaflike begrafnisplek vir hom en sy nasate laat inrig.

Die klooster-koorruimte, verteenwoordigend van die laat-Gotiese boustyl van daardie tyd, kan gereken word as een van die mees indrukwekkendste voorbeelde van hierdie styl in die middelrheingebied. In die jare tussen 1449 en 1454 het die gebou verrys: 'n drie-assige lang kerk en die koor (wat in die 16de eeu tot 'n Protestantse saalkerk herbou is). Die wapens van Hanau, Nassau en die Pfalz is in die lang deel van die koorruimte aangebring. Die slotsteen van die hoogste punt van die koorruimte word deur 'n geraamde reliëf versier. Dit verwys na die naam van die kerk, nl. Christus wat op Paasoggend aan Maria Magdalena verskyn.

In 1485 het graaf Philipp jr. die hoeksteen gelê vir die bou van die koorruimte in die laat-Gotiese styl van die Maria Magdalena-kerk te Hanau.

Gedurende 1523 het die 22-jarige graaf Philipp II aan bewind gekom. Sy begeerte was om die morele verval van die kerk en volk te stuit. Hy het ondermeer die universiteite van Mainz en Heidelberg om advies genader om 'n geskikte teoloog vir sy kerk aan te beveel. Die teologiese fakulteit van die Universiteit van Heidelberg het die magister Adolf Arbogast aanbeveel. Die graaf het die aanbeveling aanvaar. Dit was seer sekerlik nie sy begeerte om die hervorming na Hanau te bring nie. Tot sy dood het hy Rooms-Katolisisme aangehang.

Arbogast het gevra dat hy hulp moet kry, wat die graaf toegestaan het en so het die magister Neunheller in Hanau begin werk. Neunheller was altesaam 24 jaar lank pastoor in Hanau en kan as die eintlike hervormer van die stad beskou word. Magister Philippus Neunheller, uit Ladenburg in die bisdom van Mainz, was 'n geleerde en invloedryke man. Hy het onder andere gekorrespondeer met Petrus Lotichius, die ab van die klooster Schlüchtern wat die Hervorming daar deurgevoer het. Melanchthon was met albei bevriend.

'n Tyd lank het die Katolieke rituele en die Protestantse aanbiddingswyse naas mekaar bestaan, maar in die daaropvolgende jare het die Katolisisme getaan en teen 1550 het nòg pastoor Neunheller, nòg sy kapelaan Melmann as evangeliese predikers opgetree. Die Katolieke godsdiens in Hanau het ophou bestaan.

Na die dood van Neunheller het 'n onrustige tyd vir die evangeliese kerk van Hanau aangebreek, aangesien die leer in Duitsland versplinter geraak het tussen Hervomers en die aanhangers van Luther. Dit het so ver gegaan dat kapelaan Neser uit sy amp bedank het.

Na die dood van graaf Philipp Ludwig I het sy seun, Philipp Ludwig II die Calvinistiese leer bevorder met die bystand van sy leermeester van Herhorn, Jodocus Nahum.

Philip Ludwig II het op 9 Augustus 1596 ‘n dekreet uitgevaardig waarin hy Nahum as pastoor en inspekteur aan die Marienkerk benoem het. Sy opdrag was om die werklike Christelike godsdiens in Hanau en Calvinieste leerstellinge te oortuig. Hy is op 2 November 1597 oorlede.

Die Grillfamilie in Duitsland

Hermanus se van is as GRILL in Duitsland geskryf. Hierdie familie het beslis ‘n bogemiddelde lewenspeil gehandhaaf. Johann Peter Kriel * Hanau 15.07.1645, was ‘n handelaar in kruideniersware. Sy vrou Eva Christine Schlemmer * Hanau 02.06.1656, was die dogter van Frederici Schlemmer, predikant van 1618–1653 toe hy as Konsistorialrat afgetree het. Schlemmer beleef ook die Katolieke vervolging in die sin dat hy gedurende 1634 verban word. Gedurende 1635-1638 tree hy as se veldprediker van die graafskap Hanau op.

Hermanus Kriel se voorgeslagte is tot in die derde geslag in Duitsland opgespoor. Sy oupa was Johannes Grill, burger en handelaar in die ou stad. Sy ouma was Amalie Schaefer, dogter van Martin Schaefer. Oupagrootjie was Johann Grill, burger en kleremaker; oumagrootjie was Catharina NN. Sy ouma aan moederskant, Anna Katharina Kurzrock, was die dogter van Johannes Kurzrock, derde Hervormde predikant in Hanau, wat ook die vervolging gedurende 1626 beleef het. Lg. se loopbaan strek van 1610-1635 toe hy oorlede is.

Hier volg ‘n opsomming van Herrmanus Grill se familie en skoonfamilie wat predikante was. Hulle dienstydperke word gelys:

Geskiedenis van Schlüchtern

Die dorp het in die agtste eeu om ‘n klooster ontstaan. Die klooster is met die jare vergroot en gedurende die Hervorming gesluit. Sedertdien het die kloostergeboue ‘n privaat skool gehuisves. Die geboue, insluitende die Gotiese kerkgebou, is gedurende die 19de eeu herbou. In die oudste gedeelte van hierdie monument is ‘n grafkelder bewaar wat uit die Karoliniese tyd dateer. 6

Geskiedenis van Oberkalbach

Opsommend kan gemeld word dat Oberkalbach in 826 vir die eerste keer skriftelik vermeld word. In 1596 word Calvinisme dominant in hierdie gebied. Behalwe die Dertigjarige Oorlog (1618-1648), word ook melding gemaak van ‘n paar uiters koue winters, nl. 1658, 1696 en 1720. Die Swart Dood in 1348 en pes in 1407 het ook hulle tol geëis. In 1634 brand die kerk en die pastorie af en al die dokumente is vernietig. In 1654 word kerkrekords weer bygebring en ‘n nuwe kerkgebou is gedurende 1850 gebou. 7

Geskiedenis van die Evangeliese Kerk te Kirchheim

Op die plek waar die Evangeliese kerk tans staan, is ‘n klein Christelike kapel in 800 opgerig. Dit was die sentrum vir die Christene van die gesamentlike gebied Aulatals. Met die stigting van die buuroord Niederaula in 900 verloor Kirchheim hierdie funksie. Ons weet niks van die klein kapel nie, maar vermoedelik was dit van hout gebou. In 1250 was die kerk, wat voor hierdie gebou te Kirchheim bestaan het, reeds hier. Dit was ‘n reghoekige steengebou, ongeveer 8 m breed en 2 m lank met ‘n kloktoring op balke en stutpale in die nok. Nog voor die tyd van die Hervorming, teen die einde van 1400, is Kirchheim as ‘n predikantstandplaas met ‘n predikant gebruik. Daar was ‘n gewelfde koorarea van 8 m, ‘n altaar, kansel en konsistorie. In hierdie kerk is die eerste Evangeliese diens gehou. In 1554 was alle Christene hier reeds Evangelies. Van toe af was dit ‘n Protestantse kerk. Katolieke word eers weer na die Tweede Wêreldoorlog as ‘n klein minderheid hier aangetref.

Die staat Hesse in Duitsland

Hesse se grense het voortdurend verskuif. Vir die toekenning van ‘n gebied se naam moet sekere vaste reëls gevolg word. Hesse-Kassel verwys bv. na ‘n gebied wat honderde dorpe insluit. As daar na ‘n stad verwys word, word bv. die term Nassau, Hesse gebruik. Die graafskap Hesse-Darmstadt was in twee gebiede verdeel. Frankfurt am Main was ‘n vrystad op sy eie, nl. “Freiestadt Frankfurt”. Die noordelike deel van Hesse, noord van Frankfurt, was bekend as “Oberhessen” en die gebied suid van Frankfurt was bekend as Starkenburg, vernoem na die kasteel Starkenburg wat in die Odenwald geleë was. Hierdie verdeling van Hesse duur tot 1937.

Keurhesse het tot 1866 as ‘n onafhanklike entiteit bestaan en het verskeie dorpe in “Niederhessen” ingesluit. “Oberhessen” het o.m. Hanau, Gelnhausen en Schlüchtern ingesluit. Vandag staan Keurhesse as Hesse-Kassel bekend.8

Vir 200 jaar was Hanau twee afsonderlike stede, nl. Alt-Hanau en Neu-Hanau. Die Altstadt verkry 1303 stadsreg, die Neustadt is 1597 deur Walloniese-Nederlandse geloofsvlugtelinge gestig. Eers in 1834 word die twee stede een.

Gedurende 1528 begin die Hervorming in Hanau en die eerste Nagmaal op die Hervormde wyse word in 1593 gehou. In 1594 vind die eerste Franse diens in die kasteelkapel te Hanau plaas. Philipp Ludwig II onderteken die “Capitulation” in 1597 en dit dien as grondslag vir Neustadt Hanau en die Walloniese-Nederlandse Gemeente. In 1787 word voorsiening gemaak vir Katolieke godsdiens.

A.g.v. die Dertigjarige Oorlog, wat hoofsaaklik ‘n stryd tussen Katolieke en Protestante was, is feitlik alles verwoes. Met die vrede van Wesfale (1648) was daar afgebrande huise, afgekapte bome, besoedelde water, verwaarloosde mense, ens.9 Daar was groot armoede, maar in Nederland was welvaart. Dit het jong Duitsers gelok omdat daar werkgeleenthede was. Teen die einde van die sestiende eeu was die Prinse van Oranje van Duitse afkoms, dus het daar goedgesindheid teenoor die Duitsers geheers. In Amsterdam was daar besondere welvaart. Tekstielstowwe, sy en leer is vervaardig. Groot hoeveelhede suiker, boraks, kamfer, swael, was, snuif en olie is verfyn. Marmer is gepoleer en hout was vryelik vanuit Noorweë, Rusland, Laer Duitsland en Oos-Duitsland beskikbaar.10

Die Heilige Romeinse Ryk het van 1648-1803 bestaan en hulle was dus burgers van hierdie staat. Vandag is dit grootliks as die moderne Duitsland bekend.11 Fredrick II was verantwoordelik daarvoor dat Pole van die kaart af verdwyn het en Wes-Pruise deel van Duitsland gevorm het (ca. 1786). 12

Binne die Heilige Romeinse Ryk het Duitsland uit 1,789 koninkryke, vorstedomme, hertogdomme, vrystede, klein persoonlike eiendomme ens. bestaan elk met sy eie wette. Vroeg gedurende die 1800’s word die Duitse state tot 34 verminder, sommige vorm die Duitse Konfederasie. In 1867 ontstaan die Noord-Duitse Federasie onder Pruise. In 1871 word Frankryk deur Pruise verslaan en die Suid-Duitse state sluit by die Federasie aan om die Duitse Keiserryk te vorm. Lg. bestaan uit die koninkryke Bavaria, Pruise, Sakse en Württemburg, die groot hertogdom Baden en die vrystede Hamburg, Bremen, Lübeck, Anhalt, Brunswick, Darmstadt, Hesse, Lippe, Mecklenburg, Oldenburg, Reuss en die state van Thuringia. Verenigde Duitsland ontbind in 1945 toe gedeeltes aan Poland, Tsjeggoslowakye en die USSR gegee word. Die res word tussen Oos-Duitsland (DDR) en Wes-Duitsland (BRD) verdeel. Na die Eerste Wêreldoorlog het België, Denemarke en Frankryk ook gedeeltes van Duitsland bekom. Na 1945 het verskeie veranderinge binne die twee Duitslande plaasgevind tot met die hervereniging op 3.10.1990. 13

Daar is ‘n paar families in Duitsland gevind wat die van Kriel dra. Dis egter onwaarskynlik dat dit enige verband met ons stamvader het, omdat hy as Grill bekend was.

Naamgeepatroon

Volgens die naamgeepatroon is daar nogal ooreenkomste met Hermanus Kriel (Grill) se kinders se name:
b1 Johannes Pieter ˜ 28.02.1723 (vernoem na Johann Peter Grill)
b2 Maria ˜ 08.10.1724 (vernoem na Hermanus se eerste vrou se moeder, Maria Jansen (Janz)
b3 Elisabeth ˜ 04.08.1726 (vernoem na sy tweede vrou se moeder, Elizabeth (Isabeau) le Long. Haar ouers was Franse Hugenote)
b4 Eva Catharina ˜ 21.12.1727 (vernoem na Hermanus se moeder, Eva Christine Schlemmer)
b5 Jacobus Petrus ˜ 12.06.1729 (Moontlik Hermanus se skoonvader, Jacques Malan asook sy eie vader se tweede naam, Peter Grill)
b6 Johannes Daniel ˜ 18.03.1731 (‘n Malannaam)
b7 Johan David ˜ 21.04.1722 (‘n Malannaam)
b8 Hermanus ˜ 14.11.1734 (Vernoem na Hermanus self)
b9 Theodorus ˜ 02.12.1736 (Vernoem na Hermanus se predikantbroer Theodor)

Die lewe van die stamvader Hermanus Kriel aan die Kaap die Goeie Hoop

Hermanus Kriel (Criel: In die Kaapstadse doopregister Jan. 1713 - 1742-09-16 waar Hermanus Kriel en Maria Steyn as doopgetuies vir Maria se jonger broer optree, word Hermanus se van as Criel geskryf). Hermanus Kriel arriveer op 6 Mei 1719 per die Risdam as soldaat in Kaapstad. Interessant is dat die meeste van die immigrante as soldate na Suid-Afrika gekom het. Die rede daarvoor is dat die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie altyd mans benodig het om die verskeie range in sy diens te beklee. Mans van enige professie het hulle dus as "soldate" aangemeld en het nege gilde per maand as vergoeding ontvang.14 As hulle eers diens aanvaar het is hulle bevorder, en het verskeie poste beklee. 15

Hermanus Kriel was drie jaar lank ‘n leerlingbakker in diens van die V.O.C., en word in 1722 burger en bakmeester te Kaapstad. 16 By die 1722-inskrywing word Hermanus Kriel vir die laaste keer as bakker in Kaapstad aangedui - “’n Merkwaardige, liriese aanprysing van Kaapse brood het in 1724 gekom van skipper Jan Kopersluis van die skip “Stadhuijs van Delft”, wat drie weke lank in Saldanhabaai op voorraad gewag het. Hy wou 50 Kaapse brode, “by zeeluijden Zuijd-Oost genaamd”,hê,“die op een sonderling wijs aangenaam sijn alsoo dat sulks d’regte sous en medicijn is ter verversing der uijt gemergelden en door siekte schurbuikige volkeren.” 17

Tog bestaan daar ‘n dokument van ‘n vergadering gehou op 15 Januarie 1726 waarin die bakkers versoek word om koring van die Kompanjie te koop en nie van die landbouers nie. Hierdie notule is o.a. deur Hermanus Kriel geteken.18 Op 6 Januarie 1729 word ‘n vergadering gehou waar die bakkers van 8 tot 6 persone beperk word sodat hulle ‘n bestaan daaruit kan maak. Hermanus Kriel se naam word eerste as bakker genoem. 19

By ‘n vergadering van die Burgerkrygsraad gehou op 8 Junie 1729 word Hermanus Kriel as korporaal aangestel in die plek van die ontslape Pieter Christiaan Barentsz. Hierdie besluit is op 30 Junie 1729 bekragtig. 20

Op 22.03.1722 tree Hermanus Kriel * 12.04.1689, 21 Hanau am Main, Hesse-Nassau, Pruise + 08.02.1739 22 te Kaapstad in die huwelik met Maria Steyn ˜ 14.08.1706, Kaapstad »˜ Paulus Heyns en Maria Lozee, dogter van Jacobus Steyn en Maria Potgieter. 23 24 Jacobus was die seun van Maria Lozee en 'n ander man. Jacobus het die van Steyn aangeneem. 25 In die huweliksregister kom die volgende inskrywing voor: “Harmanus Kriel, van Hanauw, jongm : en Maria Steijn, van Cabo, jonge dogter” 26. Hulle woon te Kaapstad waar Maria in 1724 sterf. In haar boedelinventaris word ‘n solder en twee kamers gemeld, een aan die linker- en een aan die regterkant, ‘n voorhuis en ‘n kombuisie, asook ‘n bakery. Drie manslawe is gelys. 27

Huwelike aan die Kaap is gewoonlik gesluit met die oog op rykdom. Die meeste van die tyd het die mans ‘n welgestelde vrou gesoek, sodat hulle ‘n bestaan kon maak. Kaapse vroue het gewoonlik ‘n Europees-gebore man verkies. 28

Sedert sy eerste huwelik tot 1733 woon Hermanus te Bergstraat, Kaapstad waar hy sy bakkery bedryf. Dit is tans ‘n Maleierbuurt (2002). Volgens die oorspronklike dokumentasie is dit naby Soutrivier. Hy verkoop dit op 23.10.1734 aan J. Brand. 29

Die huise aan die Kaap het aanvanklik soos die Nederlandse gragtehuise gelyk wat uit twee ver-diepings bestaan het. Die houtwerk is gedoen met hout wat uit Midde- en Oos-Java ingevoer is. Daar was gewoonlik ‘n voorhuis met kerkstoele wat Sondae deur die slawe gedra is, en ‘n sonsambreelstaander, langs die “pronkkamer”. Agter hierdie kamer was die groot vertrek (“gaandery” of “galdery”) wat as woonkamer gedien het en waar die slawe handwerk gedoen het. Die slawe het op die boonste verdieping van die buitegeboue in die agterplaas geslaap, soos by die Koopmans-de Wethuis. 30

Geoordeel aan die boedelinventaris was Hermanus ‘n man van gemiddelde vermoëns, want daarvolgens besit hy ‘n perdewa en drie manslawe. Mense van die burgerlike stand moes ten minste twee slawe hê. 31

Hermanus tree vroeg in 1725 met Elizabeth Anna Malan 32 (d.v Jacques Malan & Isabeau le Long) * 30.11.1701 + Paarl Diamant, Paarl + 07.02.1767, in die huwelik. Sedert 1734 woon hulle te Paarl Diamant wat in 1996 in besit van Bazil Procopiou was.

Huwelike is gewoonlik op die Sondagmiddag voltreknadat die laaste gebooie op daardie spesifieke Sondagoggend geloop het. Daar was dikwels meerdere huwelikspare by so ‘n geleentheid. Die bruidspaar het swart klere gedra. Na die plegtigheid in die kerk, was daar gewoonlik ‘n onthaal aan huis by die bruid se ouers. Dit het bestaan uit ‘n kaartspel, dans en ‘n ete. Die negatiewe siening oor dans het eers in die negentiende eeu in Suid-Afrika ontstaan deurdat veral die Skotse predikante hulle sterk daarteen uitgespreek het. Na die troue het die egpaar onmiddellik in hulle eie huis gaan bly. 33

Al Hermanus se kinders, behalwe die jongste twee, word in die Kaapstad se doopregister aangetref. Die jongste twee kom onderskeidelik in die Paarl- en Stellenbosch-doopregisters voor. Sy seun Hermanus ˜ 14.11.1734 kom nog in die Kaapstadregister voor. Hulle het klaarblyklik hierna na die plaas Paarl Diaman” verhuis. Die jongste, Maria Elizabeth, word na haar vader se dood te Stellenbosch gedoop, waar Hermanus se tweede vrou vandaan gekom het.

Sedert 1734 woon Hermanus Kriel op die plaas Paarl Diamant (Pêrelrots) 34 in Drakenstein, waar hy op 28.02.1739 oorlede is. Hy en sy vrou is langs die Paarlrots begrawe. Dit is onseker of hulle op die plaas Paarl Diamant begrawe is. Sedert 1720 was die amptelike begraafplaas binne die ringmuur van die Strooidakkerk te Hoofstraat, Paarl. Daar is nog baie herkenbare grafte met grafskrifte, maar talle grafte is omgeploeg en geen teken kan daarvan gesien word nie. Die egpaar se name kom egter nie in die Strooidakkerk se begrafnisregister voor nie. 35 36

Hermanus (Harmanus) Kriel se inventaris meld tien kinders, insluitende Maria uit sy eerste huwelik. Die plaas Paarl Diamant in Drakenstein, 128 morge en 50 roede, is 12000 gulde werd. Daar word melding gemaak van die voorhuis, ‘n kamer aan die regterkant, kamers aan die linkerkant, ‘n winkel, ‘n wynkelder met twaalf “leggers” witwyn en ses leggers rooiwyn, twee halwe leggers brandewyn, ‘n brandewynketel. Perde, beeste, skape en varke is gelys. Tien mansslawe, een slavin en twee slawejongens word genoem. Lg. se name kom nie voor nie. “n Bedrag van 39483 gulde skuld is ook gelys. 37

By Hermanus Kriel se afsterwe word ‘n inventaris op 24.08.1739 opgestel waarin sy kinders gelys word as, Maria 14 jaar, Elizabeth 2 jaar, Eva Catharina 11 jaar, Jacobus 9 jaar, Johan Daniel 8 jaar, Johan David 6 jaar, Hermanus 4 jaar, Theodorus 1 jaar, Maria Elizabeth 5 maande en “haar behuwt dogter Maria.” Hierdie lg. Maria kan nie sy dogter by sy eerste vrou wees wat op 30.08.1750 met Johann Christiaan Gras getroud is nie, want tydens haar troue was sy reeds 26 jaar oud. Volgens die inventaris behoort daar nog ‘n dogter met die naam Maria te wees wat vroeg in 1726 gebore moes wees. Hierdie dogter is nog nooit in die doopregisters opgespoor nie. Volgens die inventaris van 17.02.1767 wat met Elizabeth Malan se dood opgestel is, bestaan daar nie so ‘n dogter nie, behalwe as sy reeds oorlede was en geen nageslag nagelaat het nie. Hier word die jongste dogter, Maria Elizabeth egter nie genoem nie.

By Hermanus se afsterwe meld sy inventaris die plaas “Paarl Diamant” 128 morge en 500 roede ter waarde van 12000 rds. Daar is verskeie plaasgereedskap in die smidswinkel gelys. Volgens die lys vir die wynkelder was daar wit- sowel as rooiwyn gemaak asook brandewyn. Vee wat op die plaas gelys is, meld perde, beeste, skape en varke. Verder word 10 mansslawe, 1 slavin, en 2 jong slawe genoem. Daar is baie skuld teen die boedel. 38

Moontlike verwante families

Simbole en afkortings
  ˜  
  gedoop
  »˜  
  doopgetuies
  »»˜  
  doopnota
  †  
  oorlede
  »†  
  sterfnota
  x  
  huwelik
  »x  
  huweliksnota
  »ø x  
  huweliksbron
  d.v.  
  dogter van
  s.v.  
  seun van

Aantekeninge:

  1. Gevind deur Frederik Hermanus (Erik) Kriel (4935) * 21.11.1978 op www.familysearch.org/Search (18.06.2005)
  2. Merle, G. 2006. Vertaling van doopinskrywing. Marienkirche Hanau. Marienkirche Taufbuch 1681-1690, 285.
  3. Marienkirche Hanau. Marienkirche Taufbuch 1681-1690. Ongepubliseerd
  4. Hanau - Sehenswürdigkeiten (22.01.2017)
  5. Van der Walt, S.2008. Vertaling uit die Duits
  6. Schlüchtern op Wikipedia (22.01.2017)
  7. ursula.foster.cc/page43.html (16.06.2010)
  8. Hesse-Kassel op Wikipedia (22.01.2017)
  9. Sleigh, D.2002. Eilande. Kaapstad ; Tafelberg, 287-288
  10. Schoeman, K.2004. ‘n Duitser aan die Kaap 1724-1765 : die lewe en loopbaan van Hendrik Schoeman. Pretoria : Protea, 27, 29-30
  11. Hoogenraad-Vermaak, S. C. J. 2007. Hieronimus Handriks. Deel 1, Die stamvader van een van die Hendriks families van Suid-Afrika. Familia 44, (1)6
  12. Robinson,J.H.1903. An introduction to the history of Western Europe. Boston : Ginn, 521
  13. Lehmkuhl, A. 2007. Routes to roots – Tracing your European ancestors ; a three-part series looking at the early history of our European ancestors in South Africa, and what sources are available to trace them in Europe. Familia 44 (2)71
  14. Hoge, J. 1946. Personalia of the Germans at the Cape, 1652-1806. (Argiefjaarboek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, 9de jaargang), 221. Die intreerang in die HOK was "soldaat". GMR 1719-22; RQ 1722: 71: G.R. nr. 499; Test. CJ 1073: 38; Inv. O.C. 6:27
  15. Leibbrandt, H. C. V. 1905. Precis of the archives of the Cape of Good Hope requesten (Memorials) 1715-1806. Cape Town : Cape Times, iii
  16. Kaarte hoe Kaapstad lyk, Kaapse Hugenote P. 20
  17. Sleigh, D. 1993. Die buiteposte : VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652-1795. Pretoria : HAUM, 19
  18. Resolusies van die Politieke Raad C. 74, pp 15-22
  19. Resolusies van die Politieke Raad C. 81, pp95-98, 6 Januarie 1729
  20. TEPC Project. 2008. Cape Transcripts : TEPC – two centuries transcribed 1673-1834. Burgerkrygsraad 30.06.1729
  21. Du Preez, T. 2005. The unreliability of genealogical sources: tips for beginners. Familia. Vol. 42, no. 2, p. 79 – Hermanus se geboortedatum kom in geen dokument voor nie. In sy testament word wel aangedui dat hy 32 jaar oud is wat dui op die geboortedatum as 1694. Die jare 1689-1700 is in die Hanau-doopregisters nagegaan. Daar kon geen ander Hermanus gevind word wat in die regte tydvak val nie.
  22. Algemeen Rijksarchief 4, Eerste Afdeling C20, V.O.C. nr. 5723. Titel van skeepsjoernaal Risdam 1718, rugtitel: 248 A
  23. Kaapstad doopregister, 1695-1712. Ongepubliseerd
  24. Steyn : die stamboom van 'n Afrikaner-familie. 1968. Familia 1968, jg. 5, no. 4, p. 3
  25. De Villiers G.G. 1981. Geslagsregisters van die ou Kaapse families, Deel 2: N-Z. Kaapstad : Balkema, 927
  26. www.eggsa.org Cape Town Marriages 1722. Transkribering
  27. MOOC8/4.70
  28. Schoeman K. 1997. Dogter van Sion : Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749-1799. Kaapstad : Human & Rousseau, 185
  29. Kaapstad Argiefbewaarplek. Prop 512
  30. Schoeman K. 1997. Dogter van Sion : Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749-1799. Kaapstad : Human & Rousseau, 155
  31. Ibid, p. 185
  32. Heese, J A 1992. Suid-Afrikaanse geslagsregisters, oorspronklik opgestel deur J.A. Heese, geredigeer en bygewerk deur GISA. Deel 5. L-M. Stellenbosch : GISA, 1999, 400
  33. Schoeman K. 1997. Dogter van Sion : Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749-1799. Kaapstad : Human & Rousseau, 1997, 189-191, 172
  34. Jeffreys, K. M. 1938. Kaapse Archiefstukken lopende over het jaar 1783. Pretoria : Staatsdrukker, 246, 613
  35. Van der Walt. 1998. Brief H.D. Garner
  36. Van der Walt, K. 2000. Milleniumregister : Kerkhof van die Strooidakkerk Paarl. Paarl, Kerkhofkommissie, die Strooidakkerk, Paarl, 213-214. Slegs 3 Krielgrafte gelys, 1933 en 1903
  37. TEPC. 2008. Cape Transcripts : TEPC – two centuries transcribed 1673-1834. Cape Town : TEPC Project and Sentrum. MOOC8/6.27, 100-103
  38. MOOC8/6.27 24.08.1739
  39. Sleigh D. 1993. Die buiteposte : VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652-1795. Pretoria : HAUM, 505
  40. Kowalski, M. 2006. Polish Boer families : the influence of early Polish immigration on Boer families. Familia vol. 43, no. 2, 2006. p. 42-43
  41. Heese, J. A. 1992. Suid-Afrikaanse geslagsregisters, opgetsel deur J.A. Heese, geredigeer deur R.T.J. Lombard. Deel 4. J-K. Pretoria : RGN, 459
  42. Hoge III, 76, GR II, 164
  43. Pama, C. 1983. Die Groot Afrikaanse-Familienaamboek. 1983. Kaapstad : Human & Rousseau, 192
  44. Malherbe D.F. du T. 1966. Stamregister van die Suid-Afrikaanse volk. Stellenbosch : Tegniek, 549
  45. De Villiers/Pama pp. 858-859 (kontroleer):
  46. Schoeman K. 1997. Dogter van Sion : Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749-1799. Kaapstad : Human & Rousseau, 317. Bartholomeus Schonken se moeder was ‘n gekleurde vrou, Leonora Claaz.
  47. Mouritz, E. 1943. Die Deutsche Einwanderung in die Niederlandische Kapkolonie 1652-1806. Ludwigsburg : Eichouverlag.
  48. Nederland's patriciaat. 1947. 33e jaargang s'Gravenhage: Centraal Bureau voor Genealogie, 210
  49. Ten Cate J. A. 1961. Het archief van vergadering en convent te Albergen. 'sGravenhage : Ministerie van Onderwijs, Kunsten en Wetenschap, 108
  50. Rq. 1715-16: 152, deacon of Drakenstein (Rq. 1718:113, date 1st December : exhib. 3rd December)
  51. voc.websilon.nl (16.06.2010)
  52. Malherbe D.F. du T. 1966. Stamregister van die Suid-Afrikaanse volk. Stellenbosch : Tegniek, 549 - W.W. 1908 verwys


    Anfang & Suche | Deutsche in SA | Genealogie | Kirchen | Buchhinweise | Email
    Home & Search | Germans in SA | Genealogy | Churches | References | Email