Duitsers op Stellenbosch


deur Reino Ottermann


Praatjie by gesprekskring by Hannes Meiring, Hertestraat 25, op 3 September 2006



Cathy het my gevra om te kom praat n.a.v. my praatjie by die Heemkring oor die Deutsch-Afrikanischer Frauenbund, Stellenbosch, wat van 1928 tot 1980 bestaan het. Ek wou die praatjie nie net so herhaal nie en het die onderwerp ‘n bietjie wyer gespan.

Wat is ‘n Duitser? Die begrip in sy huidige betekenis het eers relatief laat in 19de eeu ontstaan. Vroeër het dit ‘n baie wye betekenis gehad: Daar was die Heilige Romeinse Ryk met Duitse keisers vir byna 1000 jaar totdat Napoleon die laaste keiser uit die Habsburgse dinastie (Franz II) in 1806 gedwing het om die keiserkroon neer te lê en daarmee die Ryk finaal af te skaf. (Wye gebied van die ou Ryk. Ou Nederlandse Bybelvertaling: Duitsche Bijbel; Nederduits Geref. Kerk; Wilhelmus van Nassouwe: ben ik van Duitschen bloed.)

Pous Hadrian VI (reg 1522-1523) is as eerste Duitse pous beskou; Benedictus XVI dus die tweede Duitse pous. Hadrian (of Adriaan) is in Utrecht gebore wat destyds deel van die Ryk was. Hy is deur keiser Maximilian I gekies om sy kleinseun, die latere keiser Karel V, op te voed. In die huidige betekenis dus nie ‘n Duitser nie.

Mense probeer om korrek te wees en projekteer dan die huidige geografiese situasie op die verlede. Voorbeeld: Immanuel Kant in 1724 in Königsberg, Oos-Pruise gebore; vandag Kaliningrad, ‘n Russiese enklave langs die Oossee. Moet ons nou vandag Kant ‘n Rus noem?!  Mense noem ‘n Duitse musikus wat in die destydse Breslau gebore is, ‘n Pool, want Breslau is vandag Wroslaw in Pole. Daar is baie voorbeelde: Is ‘n Duitser wat in China gebore is, ‘n Chinees? Is die Afrikaners wat nou in Australië woon, Australiers?

Tot in die agtiende eeu het diplomate en soldate hulle dienste “verkoop” sonder om as renegate beskou te word. Dink maar aan prins Eugen van Savoye wat ‘n beroemde Oostenrykse krygsheer geword en die pragtige Barok Belvedere Paleis in Wenen vir homself laat bou het.

‘n Mens kan so voortborduur. Die kriteria vir as wat iemand homself, of wat ander hom beskou, is legio. Dink maar aan al die wroeging oor die identiteit van die Afrikaner!! Dus gaan ek die bergip “Duitser” ‘n bietjie wyd neem: Mense wat destyds as Duitsers beskou en as sodanig aanvaar is, “give and take”.

Ek het toe maar ver terug gegaan en wil (sonder aanspraak op volledigheid) ‘n paar interessante mense uit die Stellenbosse verlede lys. Dit gaan ‘n bietjie van ‘n katalogus word en ook nie altyd chronologies nie. Maar later kom daar darem ook ‘n paar stories!

‘n Interessante en relevante feit is dat jong Duitsers wat onder die Kompanjie uitgekom het, hier met Nederlandse meisies (bv. die beroemde weesmeisies) of ander meisies (plaaslik of uit die Verre Ooste) getroud is. ‘n Groot aantal, indien nie die meerderheid nie, was ook uit Noord-Duitsland afkomstig, met Plat-Duits as moedertaal, nà-verwant aan Nederlands. Dus het die Duitse taal redelik vinnig verdwyn. Op skepe van die Kompanjie is egter dikwels soggens en saans deur trompetters ‘n Duitse koraal gespeel.

Hennig Hüsing, 1649 in Hamburg gebore, kry in 1677 as een van die eerste vryburgers toesteming om sy vee “oorkant die Eersterivier” (van die Kaap af gesien) te laat wei. In 1680 word die plaas Welmoed aan hom toegeken, in 1693 ook Meerlust. Hy word in 1683 heemraad van Stellenbosch.

Martin Melck, latere heemraad, gebore in 1723, arriveer in 1746 van Memel, Oos-Pruise, begin 1749 as karweier werk vir die lewering van boumateriaal. Sy verder geskiedenis op Elsenburg ens. is bekend.

Johann Frederick Starrenburg uit Lübeck word in 1707 as landdros aangestel. Hy was in die destydse stryd ‘n sterk ondersteuner van goewerneur W.A. van der Stel.

Sebastian Schröder uit Schledenhausen word sekretaris van die meul op Stellenbosch en bou in 1709 ‘n huis wat vandag nog, as oudste huis op Stellenbosch staan.

E. V. Stade teken in 1710 die oudste bekende skets van Stellenbosch.

Van Johannes Schumacher, kunstenaar in goew. Swellengrebel se reisgeselskap, het ons ‘n skets van Stellenbosch uit 1776.

Willem Frederick Hertzog (van Duitse voorouers 1792 aan die Kaap gebore) teken in 1817 ‘n kaart van Stellenbosch.

Carl Otto Hager, argitek (Moederkerk, ou Lutherse kerk e.a.), teken 1859 ‘n plan van Stellenbosch. Hy arriveer in 1830 vanaf Leipzig en vestig hom in 1841 op Stellenbosch waar hy ook in 1898 oorlede is.

Twee vroeë smede op Strellenbosch was Hans Contermann (wat ook in 1706 heemraad was) en H. Scheffer.

Heinrich Ludwig Blettermann, arriveer in 1741 uit Sondershausen, was landdros, van beroep kleremaker.

Georg Knoop (uit ‘n Duitse familie) was vanaf 1785 ’n gewilde onderwyser en ook voorleser-voorsinger. Die eerste orrel is net na sy dood in 1800 in gebruik geneem. Die eerste orreliste was gewese Kompanjie- dienaars C.T.Weitzmann, ‘n timmerman, en J.C. Ade. Later was Friedrich Wilhelm Jannasch (1853 van Duitse sendeling-ouers op Mamre gebore, en in Duitsland opgevoed) van 1887 tot 1930 orrelis van die Moederkerk.

Die bekende ds. Meent Borcherds, Stennebosse predikant van 1786 tot 1830, is in Jemgun, Oos-Friesland gebore, weliswaar naby die Nederlandse grens. Oos-Friesland was, en is nog steeds, Duitse gebied, met ‘n sterk gereformeerde bevolkingsdeel. Was hy nou ‘n Duitser of Nederlander? Sy nagelate papiere (bv. ‘n handgeskrewe musiekboek) het ‘n sterk Duitse inslag.

Aan die Duitser Philip Kraft is in 1799 vir drie jaar die alleenreg vir die brou van bier verpag, “als de eerste zynde welke het bierbrouwen binne dit dorp heeft by der hand genomen”.

Johan Pieter Volsteedt wie se vader uit Rendsburg in Duitsland gekom het, kry in 1824 van die Landdros en Heemrade toestemming om op sy erf in Dorpstraat ‘n looiery en basmeul (om looierbas re stamp) op te rig. Sy buurman Dirk Hamman (sy voorouer het uit Dresden gekom) maak beswaar omdat dit na sy mening ‘n afstootlike bedryf was. Water sou uit die Eersterivier geneem word en die looiers-afvalwater sou dan, terug in die rivier, die water ongeskik vir huisgebruik maak. Die Landdros en Heemrade laat Volsteedt toe om met sy bedryf voort te gaan, mits die vuil afvalwater nie in die rivier sal laat loop nie, maar in sy tuin laat wegsink!

Die eerste chirurgyns op Stellenbosch was Hugenote. Jean Prieur du Plessis (‘n gekwalifiseerde medikus?) se naam kom vir die eerste keer in 1697 voor. Die eerste gekwalifiseerde chirurgyn was ‘n Skandinaviër, Jan Christiaan Nielsen (opper-chirurgyn van ‘n skip). Hy word in 1791 toegelaat om aan die Kaap agter te bly en word in 1794 die eerste “Colonies-Chirurgyn” op Stellenbosch. ‘n Duitser, Christian Wilhelm Wedemeyer, was dan waarskynlik die tweede gekwalifiseerde dokter. Hy is in 1803 deur die Landdros en Heemrade aangestel.

Die Joerning-familie van die bekende apteek was ook Duitsers.

In die musiekhandel het die firma R. Müller van Kaapstad (Richard Müller was ‘n Duitser) vir ‘n tyd lank ‘n winkel op Stellenbosch gehad, vir ‘n aantal jare deur Friedrich Wilhelm Jannasch, die latere medestigter van die Konservatorium, bedryf. Later het David Justus vir baie jare ‘n  musiekwinkel gehad, en sedert meer as 50 jaar het ons tans die landswyd bekende firma Musikhaus W. Heuer op Stellenbosch.

Onder die eerste Stellenbossers wat doelbewus sendingwerk onder die slawe gedoen het, was Jan (Johann Michael) Morel, geneesheer wat in 1817 uit Sakse gekom het. (Martin Melck het reeds in 1783 twee van sy slavinne en in 1786 ‘n slaaf laat doop, nadat hulle belydenis van hul geloof afgelê het.) Sendingwerk is geïntensiveer deur die stigting van ‘n sendinggenootskap. Op 1 Januarie 1830 aanvaar die Rynse sendeling Paul Daniel Lückhoff ‘n beroep van die genootskap en word voltydse sendeling op Stellenbosch. Ander Rynse sendelinge was, o.m. Ferdinand Juffernbruch, Jakob Weber, Johann Georg Knab, Wilhelm Adolph Alheit, Julius Reuter en Fritz Feige. Besondere vermelding verdien Christiane Kähler. Sy het in 1832 aan die Kaap aangekom. Pas getroud het sy en haar man Heinrich na Wuppertal vertrek. Op pad het hy in die Bergrivier geswem en is aan ‘n hartaanval oorlede. Sy het haar toe op Stellenbosch kom vestig en vir 40 jaar lank onder die lidmate van die Rynse gemeente gearbei, soos ‘n regte Tabita. Sy moes ‘n ongelooflik toegewyde en goeie mens gewees het. ‘n Straat in Idasvallei dra met reg haar naam. In die Weber-familie het ingetrou ‘n Duitser Traugott Baumbach (Berlynse sendelingseun) en en die bakker Fritz Paul Haldenwang uit Barmen in Duitsland.

Ook die Rynse sendingskool het geweldig gegroei. Vanaf 1866 het Johannes Samuel Hahn aan die hoof gestaan van ‘n skool van tot 500 leerlinge. Let wel: Die latere Rhenish was ‘n skool wat die Rynse Sending in 1860 aanvanklik vir die dogters van sendelinge opgerig het, ten einde hulle nie vir skoolopleiding na Duitsland hoef te stuur nie, soos die Morawiërs bv. wel gedoen het.

Voor ek hom vergeet, noem ek hier ook graag die naam van Walther Blersch wat vir jare lank stadsklerk van Stellenbosch was. Hy is in 1888 aan die Kaap gebore net na die aankoms van sy ouers uit Uhlingen in Württemberg. Sy eerste vrou Lydia Hohrath is in 1938 oorlede. Haar graf is die eerste graf op die sogenaamde Duitse of Lutherse begraafplaas teen Papegaaisberg.

Sonder die opnoem van datums of ander besonderhede noem ek graag nog die familie Clüver, kinders van die Lutherse predikant Friedrich Clüver in Kingwilliamstown. Die naam is onder meer verbind aan die ou prokureursfirma Clüver en Markötter. (Markötter was ‘n Berlynse sendingfamilie.)

Nou nog iets oor die hoër onderwys. Die Konservatorium is in 1905 gestig deur twee Afrikaanse dames (Nancy de Villiers en Elizabeth von Willich, geb. de Villiers) en drie “Duitsers”: Die reeds genoemde Friedrich Wilhelm Jannasch, die Oostenryker Hans Endler en die Switser Armin Schniter. In die honderjarige geskiedenis van die Konservatorium het heelwat Duitsers of Suid-Afrikaans gebore Duitsers ‘n rol gespeel.

Aan die universiteit het ‘n hele aantal Duitsers in ‘n verskeidenheid van dissiplines ‘n bydrae gelewer. Ek gaan net name noem: Die chemikus en fisikus (en plantkundige) Rudolf Marloth, J.F.W. Grosskopf (ekonomie), Ernst Friedländer, John Hoge, Hans Trümpelmann e.a. (Duits), Werner Eiselen (volkekunde), Reinhard Ludwig Straszacker en Alan Heydorn (ingenieurswese), Egmont Rohwer (chemie), Otto Schröder (beeldende kunste; dit laat ‘n mens ook die skilder Georg Paul Canitz van die plaas Muratie onthou), Richard Behrens (musiek), Eckart Kassier (landbou-ekonomie), Detlev Kröger (ingenieurswese) Klaus Schwietering (regte), Ingo Hälbich (geologie) en Günter Gerischer (bosbou).

Sommige van hulle was, soos ook die volgende, eerste- of moontlik tweedegenerasie Suid-Afrikaans gebore: C.G.W. Schumann (ekononie), P.F.D. Weiss (Semitiese tale), Gerdard Hartwig (houtkunde), Siegfried Göldner (wiskunde), A.P.G. Söhnge (geologie) en Rudolph Bigalke (natuurbewaring). Die meer onlangse laat ek maar weg.

Naas die genoemde professore was ‘n aansienlike aantal Duitsers dosente in verskillende dissiplines, waarvan ek graag nog graag die Oostenryker dr Alex Jokl, ene mnr Obholzer en mej Robra (later mev Steinwender) aldrie van liggaamlike opvoeding wil noem.

Twee baie belangrike name wat ek nog nie genoem het nie, is die van dr. Hans Herre en mnr Helmut Meyer van die Botaniese tuin .

Ek is seker u koppe dreun reeds van al die name. Ek gaan dus daarby volstaan en ter afsluiting nog iets oor die Deutsch-Afrikanischer Frauenbund, Stellenbosch, vertel wat aanleiding gegee het tot hierdie praatjie.

Ek gaan dus daarby volstaan en, as tweede deel van my praatjie, ietsvertel oor die “Deutsch-Afrikanischer Frauenbund, Stellenbosch” wat aanleiding gegee het tot hierdie praatjie. Ek gaan nie die hele storie herhaal nie, maar dit as kapstol gebruik vir die ophang van persoonlike herinneringe aan ‘n aantal merkwaardige dames en vir die noem van name wat by sommige van u dalk ‘n persoonlikheid uit die verlede sal oproep. En natuurlik ook ‘n paar snaakse stories! Ek is immers ook al meer as 50 jaar op Stellenbosch.

Die Deutsch-Afrikanischer Frauenbund, Stellenbosch het sy oorsprong te danke aan die inisiatief van mev Lilly Friedlaender, eggenote van die professor vir Duits aan die universteit Ernst Friedlaender.  Dit is, na ‘n aanloop van ‘n paar jaar, op die ou end in 1928 gestig.

Die dames het in die reël maandeliks vergader, meestal in privaat huise. Maar ook die Murraysaal, Ruskamer en Hulda de Wet-Gebedskamer in die ou CSV-Gebou (waar ABSA Bank nou is) en ook die Uitspan-Kafee in dieselfde gebou is dikwels gebruik, veral as hulle gesinne, of selfs die groter Stellenbosse publiek ook genooi was. Een of twee dames het telkens die gasvrou bygestaan met die verskaffing van die verversings.

In die vroeë jare vind ons bv as gasvroue, helpers en soms ook as gaste die volgende dames (dis ‘n langerige lys, maar tog baie interessant): Mev Friedlaender, mev Perold (tweede vrou van prof A I Perold, in haar huis op die hoek van Neethling- en Murraystraat), mev Reitz (eggenote van dr Reitz, in Van Riebeeckstraat langs die Presbiteriaanse kerk), mev Weber (eggenote van die Rynse sendeling eerw Weber), mej Schloemann (Berlynse sendelingkind en jarelank matrone van die Denneoordkoshuis), mev Hanefeld (eggentote van ‘n Rynse sendeling), mev Andrag (geb Biesenbach), mev Biesenbach (tweede vrou van ‘n Rynse sendeling en dus stiefmoeder van mev Andrag), mev Feige (eggenote van die Rynse sendeling op Stellenbosch), mej Hahn, mev Radloff, mej Johanne Clüver (dogter van pastor Friedrich Clüver van Kingwilliamstown en suster van die Stellenbosse prokureur Albert Clüver en van Paul Clüver, vader van wyle prof Paul Clüver en van Betsie Clüver), mev Herre, dr Erika Markötter (Oubaas Mark was haar oom), mev Donald (van De Vosstraat, suster van dr Karl Bremer), mej Kupferbürger (Rynse sendelingkind), die dames Hickel (‘n Morawiese sendingfamilie), mev Blersch (eggenote van die stadsklerk) en haar moeder, mev Hohrath, verder mej Baginski, mej Martini, mev Eiselen, mev Gümpel, mej Robra (die latere mev Steinwender), mev Wesener, mev Meyer, mev Wirth, mev Canitz, mev Wilcocks, eggenote van die rektor en haar moeder, mev Zerffi, en mev Grosskopf (Van der Stelstraat, weduwee van die Berlynse sendeling eerw Grosskopf snr en moeder van mejj Clärchen en Mariechen). Clärchen Grosskopf was vir baie jare gesondheidsbesoekster van die Stellenbosse Munisipaliteit en Mariechen was onderwyseres en later medewerkster van die Kinderensiklopedie. - Dis vir eers genoeg.

Die Frauenbund se eerste belangrike doelstelling was om fondse in te samel vir die Duitse weeshuis in Philippi op die Kaapse Vlakte. In Mei 1928 het hulle die weeshuis besoek. Van die 62 sjielings wat ingesamel is, het twee pond vir die huur van die “lorrie” (!) vir hulle vervoer gegaan en 10 sjielings vir geskenke vir die weeskinders. Met die orige 11 sjielings is ‘n fonds vir die Weeshuis begin.

Op 7 Maart 1928 tree mej Margarete Wandelt, ‘n nuwe dosent in sang aan die Konservatorium,voor die Frauenbund op. Laat my toe om ietsie meer oor Juffrou Wandelt te sê. In my studentetyd het ons, natuurlik agteraf, na haar verwys as “Ou Grietjie”. Oudstudente praat tot vandag toe van “Griet Wandelt”. Sy was ‘n besonder suksesvolle sangdosent. Ek noem ‘n paar van haar bekendste oudstudente: Prof George van der Spuy, Joy van Niekerk, Louisa le Roux-Cronjé, Joshua Serfontein en sy vrou Anneen Leeuwner, Mary-Ann Adler (nou Van Rensburg) en haar man Louis van Rensburg en Virginia Oosthuizen. Juffrou Wandelt het ‘n enorme bydrae tot die sukses van menige Studentesangfees gelewer, veral met uittreksels uit Weense operettes wat sy vir die doel “ge-arrangsjeer” het. Maar sy kon moeilik wees! Stephanus Zondagh, die later bekende orrelis en orreldosent in die Noorde, het die volgende vertel oor ‘n tipiese (in hierdie geval eerste) les by haar. Hy was maar skugter, en toe sy vir hom sê hy moet iets sing, toe sing hy heel saggies binnensmonds iets. Toe sê sy: “Open doch your mouse, ja, zat ze breass can doch come out, ja!” Hy maak toe sy mond wawyd oop en sing ‘n harde noot. Toe steier sy terug asof sy skrik en sê: “Right! Shout aber doch not like a lion, ja!” En daarna, as versugting: “Tog maar to be or not to be, ja!”

Mev Reitz was in die Duitse gemeenskap alom as “Frau Reitz” bekend (met die Duitse “ei” soos in Leipoldt of Einstein). Oor haar ‘n mooi storie: By die inwyding van die H.B. Thom-Teater in Oktober 1966 is Goethe se “Faust” in die Afrikaanse vertaling van Eitemal opgevoer. Al wat leef en belangrik was, was daar. Daardie tyd kon ‘n mens nog agter die garage aan die ander kant van Andringastraat parkeer (ek meen dit was Stellenbosch Motors). Toe ons na die opvoering na ons motor toe stap, sien ek “Frau Reitz” het ‘n probleem. Sy staan daar, met die jakkalspels om haar skouers (u kan seker onthou: die soort wat jou met sy glasogies aangegluur het) en sy probeer vir dr Reitz dirigeer hoe hy moet agteruit ry en beduie opgewonde: “Meer na links, Chys!” En toe sy my sien: “Ach Gott, Herr Ottermann, helfen Sie doch!”

Die Reitzse het in die karaktervolle huis langs die Presbiteriaanse kerk in Van Riebeeckstraat gewoon. As huishoudster het hulle ‘n Duitse dame, mej Adele Holland, in diens gehad. Naas haar was daar nog ‘n bruin vrou, Ragel, of op s’n Engels Rachel. Mev Reitz het egter “Reetschel” gesê. Eendag kry ek vir “Reetschel” voor De Wets en sy vertel my opgewonde van haar skeepsreis – van Kaapstad na Durban (of moontlik Lourenço Marques - ek kan nie presies onthou nie), dus van Kaapstad en terug wat die Reitze vir haar geskenk het. Tog ‘n baie mooi trek!

Oor die Hahns van Hertestraat moet ek ‘n bietjie meer genealogiese inligting verstrek. Ek self kon vroeër nie die kloutjie by die oortjie kry nie, veral omdat daar in Suidwes-Afrika nog ‘n Rynse sendeling Hahn was, nl die beroemde Dr Carl Hugo Hahn wat op sy oudag in Kaapstad en later in die Paarl gewoon het. Die Rynse sendeling Johannes Samuel Hahn I was sendeling onder die Namas duskant en anderkant die Oranjerivier. Hy kon egter die Nama-taal nie werklik baasraak nie en keer 1851 na Duitsland terug. Sy een seun, Johannes Theophilus Hahn, was ‘n besonder begaafde taalkenner (onder meer van die Namataal en die Hererotaal) en het na sy geboorteland teruggekeer waar hy op die ou end “staatsfiloloog” en bewaarder van die kosbare Grey-Versameling in die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad geword het. (Hy het die beroemde Hahn-katalogus van die versameling saamgestel.) Sy broer, Johannes Samuel Hahn II, het ook na Suid-Afrika teruggekeer en hoof van die Rynse Sendingskool op Stellenbosch geword. Die Hahns van Hertestraat was sy kinders.

Toe ek hulle leer ken het, het twee van die toe nog oorlewende susters, Aunt Lena en Aunt Dolly, en hulle broer Uncle Fritz elkeen apart in een van die skakelhuise gewoon. Aunt Emma was met ‘n Radloff getroud gewees en het as weduwee in Schröderstraat agter die Johnmans gewoon. (Sover ek kon vasstel, was slegs mej Helena Johanna [Aunt Lena] en mev Emma Radloff lid van die Frauenbund.) Aldrie susters en Uncle Fritz is tussen 13 Julie 1966 en 5 Januarie 1967 oorlede, tussen 80 en 95 jaar oud. En elkeen van die susters het aan ‘n ander kerk behoort: Ryns, NG en AGS. ‘n Ander suster, Johanna Mathilde, was ook met ‘n Radloff getroud gewees en is reeds in 1953 oorlede. Sy was die moeder van mev Dorothy Johnman en van mev Millie van der Merwe van Potchefstroom. Dorothy het ongelooflik mooi na die viertal oumensies gekyk en elke dag by elkeen ingeloer. In die laaste jare het mej Lieschen Meyer (dogter van die Rynse sendeling Gottlieb Meyer van Komaggas en Steinkopf en suster van die bekende Helmut Meyer van die Botaniese Tuin en van Disa-faam) daar ingewoon en hulle opgepas – en met streng dissipline die septer oor hulle geswaai. Tante Lieschen het later in Utopia gewoon en vir al wat leef en ietwat mankoliekig was, winkels toe gegaan.

Dorothy Johnman het oor haar Aunt Emma Radloff dié pragtige storie vertel: Een dag kom sy in Aunt Emma se huis (daardie tyd kon ‘n mens nog jou voordeur oop laat!) en roep: “Aunt Emma, waar is jy?” Toe hoor sy Aunt Emma gorrel in die badkamer en vra haar of sy siek is. Toe kom die mooi antwoord: “Nee. Ek het maar net vanoggend my medisynekas leeg gemaak. Toe vind ek dié medisyne wat die dokter my laas vir my keel gegee het. Nou gorrel ek dit maar op.”

Spaarsamigheid was hulle wagwoord, waarskynlik uit nood gebore. Toe die liewe oumense in 1967 almal dood was, het die Johnmans my gevra om te help opruim en uitsorteer. Wat alles daar uitgekom het, is ‘n eie praatjie werd. In een huis was ‘n aantal skoendose op ‘n rak opgestapel, elkeen met ‘n plakkertjie waarop staan wat daarin is. Daar was, onder meer: “Cork, used matches, string” en – hou jou hart vas!  - “string too short for use!”

Die immer ywerige stigter van die Frauenbund, mev Lilly Friedlaender, is op 18 November 1931 onverwags oorlede. Dit was ‘n groot verlies vir die vereniging. Maar die aktiwiteite het aangegaan. En die merkwaardige is dat prof  Friedlaender se tweede vrou, mev Aenne Friedlaender wat op 7 November 1934 vir die eerste keer as gas aan ‘n byeenkoms deelgeneem het, kort daarna ook weer een van die steunpilare van die Frauenbund geword het.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Frauenbund, soos baie ander Duitse organisasies opgehou om te bestaan of sy aktiwiteite vireers gestaak. Vir die volgende aantal jare het die hoofaktiwiteite gedraai om noodleniging in die verwoeste Duitsland. Goedere is versamel, basaars is gehou en kiste en pakkette met kos, klere en ander noodsaaklikhede is na Duitsland gestuur. Die Frauenbund word dan ook ‘n “korporatiewe lid” van die Deutsch-Afrikanischer Hilfsausschuss (DAHA), ‘n geregistreerde welsyns-organisasie met hoofkantoor in Pretoria, wat oor ‘n aantal jare letterlik honderdduisende kiste en pakkette na Duitsland gestuur het. Hierdie hulpaksie is veral ook uit die Afrikaanssprekende gemeenskap sterk ondersteun.

 ‘n Groot aantal nuwe name verskyn in die na-oorlogse notules, as lede of as gaste. Ek noem weer ‘n aantal van hulle, sonder aanspraak op volledigheid. U sal wel heelwat van die name herken: Mev Heydorn (wat dikwels voorsitter was), die dames Holtz, Straszacker, Strey, Wenhold, Steinmann, Baumgartner, De Vynck, Wirth, Anna Malherbe, Burmester, Wiechmann (suster van dr John Hoge van die Departement Duits), Trümpelmann, Gerlint Haller, Leemann, en Ingrid Papendieck (vanaf 1951 as mev Friedlaender), mej Möller (huishoudster by die Scholls op die hoek van Thibault- en Du Plessisstraat in Mostertsdrift), Dr Tormann, mev Heuer, mev Schwietering, Dr Thiele, en mev Reuter (eggenote van die Rynse sendeling eerw Reuter). Daar was natuurlik nog meer.

Die reëlings vir die jaarlikse basaar in die banketsaal van die stadsaal en die Adventsbyeenkoms en Kersverkoping het telkens heelwat besprekingstyd in beslag geneem. Naas die gebruiklike groente en vleisware het die basaar elke jaar materiaal vir voorskote en ander naaldwerkartikels van mev Wildner se winkel “Nerina” in Ryneveldstraat gekry. Ook bestanddele vir koekbak en worsmaak en vars produkte vir die middagete is deur verskeie mense geskenk. Luister net by wie almal vars eiers gevra is vir die koekbakkery in 1960: Heins van De Clapmuts, Canitz van Muratie, Von Carlowitz van Uitkijk, Von Wechmar van Wechmarshof, Hoheisen van Delheim, Wirth van Nooitgedacht en Flockemann van Lorraine.

Die middagete het altyd aanleiding gegee vir heelwat bespreking: Sal dit aartappelslaai en worsies wees, of ghoelasj en rys, of dalk ertjiesop met rookwors? Laasgenoemde het een jaar in een of ander kombuis die nag voor die basaar begin gis, met minder aangename gevolge. Die aand na die basaar is daar in die Rec-bioskoop in Pleinstraat ‘n film van Verdi se opera “Aïda” vertoon. Toe mense so een-een vinnig begin uitloop, kon jy maar weet hulle was by die Duitse basaar gewees!

Die Frauenbund het baie van sy aktiwiteite in die ou CSV-gebou, o.m. ook in die Murraysaal. Daar het ook die dienste plaasgevind van die Duitse Lutherse gemeente wat in 1952 gestig is. (Die vorige Lutherse gemeente met sy pragtige Hager-kerkie op die hoek van Bird- en Dorpstraat was ‘n dogtergemeente van die Hollands-Lutherse gemeente in Strandstraat, Kaapstad, gewees. Sy aktiwiteite het voor die Tweede Wêreldoorlog al geleidelik doodgeloop.

Die Duitse Lutheran op Stellenbosch was lidmate van die gemeentes in Kaapstad (St Martini), Philippi of die Paarl. As gevolg van die toename van Lutherse inwoners van Stellenbosch het mettertyd die behoefte aan ‘n eie gemeente ontstaan. Daaroor wil ek nie verder berig nie, behalwe dat die Frauenbund ‘n groot bydrae gelewer het tot die fondsinsameling vir die bou van die kerk in Hofmeyrstraat.

Daar was ook Rooms-Katolieke Duitsers op Stellenbosch wat hulle geïdentifiseer het met die Frauenbund en die kerkbasaar van die gemeente.

Die vereniging het tot in 1980 bly voorbestaan en baie aktief gebly. Mev Aenne Friedlaender en haar suster, mev Schreiber, wat by haar ingewoon het, het in 1969 na Duitsland teruggekeer.

Die Frauenbund is, hoofsaaklik weens veranderde tye, in 1980 ontbind. Mev Ingrid Friedlaender het daarvoor gesorg dat die ontbinding ordelik plaasvind. Sy het die dames vir ‘n buffetete op 4 Junie 1980 genooi, en daar het die Frauenbund, netjies volgens die konstitusie, besluit om te ontbind. Die oorblywende fondse is aan die St Johannis Heim ouetehuis in Parow oorgedra.

Stellenbosch sou sonder sy Duitsers kon bestaan het, maar die geskiedenis sou seker ‘n bietjie minder kleurvol gewees het!


Ottermann | Anfang & Suche | Deutsche in SA | Genealogie | Kirchen | Buchhinweise | Email
Ottermann | Home & Search | Germans in SA | Genealogy | Churches | References | Email